Oorlewende
Middel Julie 2012 ontvang ek die lewensveranderende diagnose van borskanker na ek bloot vir ‘n roetine-mammo gegaan het. Binne net meer as ‘n jaar word dubbele mastektomie, limfedeem, chemo en rekonstruktiewe chirurgie deel van my woordeskat.
Ek is in rowwe water en my langtermyndrome is skielik nie meer van toepassing nie. Ek begin ‘n dagboek “om tot verhaal te kom,” soos die joernalis Lizette Rabe sê. Toe ek uiteindelik opkom vir asem, het ek vir die eerste keer ‘n begeerte om die beste van elke dag te maak.
Tot op daardie stadium was my plakboek met foto’s en artikels oor Suid-Afrikaanse kuns die somtotaal van my kunsuiting. Na twee lesse by die ou Strijdom-gallery het die gogga behoorlik gebyt. Na aanleiding van YouTube-video’s het ek so ‘n bietjie geleer van toonwaardes, proporsie, en balans. Ek het my liefde vir taal en gedigte begin kombineer in pen en ink-sketse en ook my eie reeks groetekaartjies laat druk. Dit was vir my van belang dat ons blywender woorde as swak versorgde SMS-taal gebruik om ‘n spesiale boodskap aan hartsmense oor te dra.
Ek leer nog steeds hoe om beweging, emosie en kontras vas te vang, maar besef dat kuns die wonderbaarlikste terapie naas my groentetuintjie was. Om my gesondheid te waardeer, minder uit te stel tot later en die lewe met albei hande aan te gryp, was maar ‘n paar van die pluspunte van my kankerstorie.

