Borskanker
Wat sê mens van jouself?
Dit was nog altyd vir my heerlik om iets te kon maak en alles is vir my ‘n uitdaging, want my leuse is: As jy kan lees, kan jy iets doen! Nogal arrogant, nê!
Ek het verskillende kunsvorms beoefen maar my gunsteling is Loodglaswerk. Dit is baie uitdagend en bevredigend. Dit is harde werk; meestal moet jy staan want alles moet presies wees. Glas kan nie aangelas word nie. Die vreugde van ‘n voltooide artikel is prysloos.
Ek is in Oktober 2007 met Borskanker gediagnoseer. Na ‘n Lumpektomie waar ‘n gedeelte van my bors en verskeie limfkliere verwyder is, het ek die nodige behandeling gekry.
My siening van die Lewe het baie verander. Ek het spesiaal gevoel – so asof ek bevoorreg was en ‘n tweede kans met meer kennis, dieper insig en groter passie gekry het.
Ek weet nou ek moet voluit lewe, baie lief hê, en elke dag geniet. Ek weet nou dat die Groot Pottebakker my gebrei het om tot sy Eer te leef. Om te doen wat Hy deur sy Gees in my hart lê om te doen, deur liefde en deernis vir ander te hê.
Benut elke uur ten volle – nie met kommer en sorge van wat dalk mag gebeur nie – gee jou kommer vir Hom in geloof en doen dinge wat die Here grootmaak.
Maak baie herinneringe wat vir altyd sal hou (ek probeer die beste ouma in die wêreld te wees).
MAKE MOMENTS, MAKE MEMORIES, maar ook MAKE TIME TO SMELL THE ROSES.

