Oorlewende
In 2007, ‘n week voor die skoolvakansie, is ek na die dokter met ‘n knop langs my maag, wat pyn as ek hoes. Die toetsreeks by die skool moes eers klaar. So ook leerders se verlae. Dit moet gepos word.
Ek het maar altyd long probleme gehad en het ek in daardie kwartaal al reeds in die hospitaal gaan draai met longontsteking Ek het melding gemaak van die knop langs my maag en die plaasvervanger dokter wat vir my dokter ingestaan het het gesê ons moet eers die longe reg kry.
Met ‘n besoek aan my dokter het hy onmiddelik onraad bemerk. Hy kon nie vir my ‘n verwysende afspraak in my tuisdorp kry nie en ek moes Kaap toe. Groote Schuur, slegs vir ‘n ondersoek. Na die ondersoek moes ek hoor dat ek nie die hospitaal kan verlaat nie. Ek moet bly vir verdere toetse. Gelukkig op voorstel van my dokter weens my long probleme, het ek altyd ‘n hospitaal tassie agter in my motor se bagasiebak gehad.
Daardie “bly in die hospitaal” het 7 weke in die hospitaal geword. ‘n Agresiewe kanker het toe al na vele plekke in my liggaam versprei. Blykbaar was daar nie veel hoop dat ek dit sou oorleef nie. So is my dokter op my tuisdorp ook ingelig.
Gelukkig het ek dit nie geweet nie; blomme het weekliks op my afgereën. Al die leerders het vir my kaartjies gemaak en briefies geskryf, wat afgelewer was in groot bruin koeverte.
Die laaste naweek van die 7 weke is ek na ‘n haarsalon gestuur om my hare te laat knip en kap soos ek dit wil hê. Daarna is ek na ‘n salon geneem met pruike sodat dieselfde styl en kleur gekies kon word.
In die tyd moes ek vir ‘n werksonderhoud vir pos van skoolhoof waarin ek toe reeds ‘n tyd lank waargeneem het, gaan. Ek moes 3 keer uitstel vra. Alles het so onbeplan gebeur en ek moes terwyl ek in die hospitaal was die eksamen rooster vanuit my bed (en baie siek), telefonies doen. So ook vele ander dinge.
Aan die einde van die 7 weke is ek vir ‘n vergadering met die hoof (Dr Van Wijk) van die onkologie afdeling genooi. Ek het my hare laat was en kam by die hospitaal se haarsalon. Ek het ‘n rok by my suster geleen. By die afspraak het ek gaan sit waar ek gewys is. Dr Van Wijk wou weet waar my familie is, wat ek nie het nie en of baie ver is. Dr Van Wijk stel my voor aan die sekretaris wat alles moes neerskryf. Dr Van Wijk begin sy storie deur te sê dat ek vir nog 6 maande in die hospitaal sal moet bly. My antwoord: Nee, ek moet in Oudtshoorn kom, ek het ‘n onderhoud vir pos as skoolhoof. Toe hoor ek stemme agter my wat sê: “Baie Geluk”. Toe eers sien ek al die mense agter my. Die dokters wat geopereer het, die patoloog en ander. Ek draai na Dr Van Wijk en sê: “Ek is hier om te hoor of ek my chemo op George kan kry, want ek moet by die skool kom. Ek moet eindvraestelle opstel en die praktiese eksamens gaan afneem.”
Daardie selfde oggend het ek in die hospitaal my eerste chemo gekry. Ek is die Saterdag oggend ontslaan. Ek mag nie bestuur nie en my suster bring my met my motor huistoe. Ek het op die skoolgronde gebly en skool toe gestap en ek is aangestel as skoolhoof.
Ek het absoluut korrek geëet en gedoen wat voorgeskryf was, want ek het nie tyd gehad om nog siek te wees nie.
My chemo’s was Vrydae 9uur. Ek was 7uur op kantoor vir die ouers wat my wou spreek. 7:30-7:45 met die personeel vergader om alles vir die dag te bespreek. In 15 minute het ek by die klasse om gedraf – ook na my eie klas waar die Departement ‘n assistant aangestel het om my te help. Agt uur was en in my motor en 9uur op my chemo stoel. Aan die begin vir 5 ure wat toe later 8 uur sessies geword het. Gewoonlik heel laaste uit die chemo kamer. Daarna is ek na ‘n naby geleë restaurant vir ‘n koppie swart tee en ‘n sny roosterbrood met marmite op. Dan in my kar, terug Oudtshoorn toe. Saterdag oggend was dit sport of leierspan opleiding. Vroeg weg uit Oudtshoorn met gemmertee en gemmer koekies in my sak. Ek is ‘n pluimbal afrigter en speler (nog steeds). Einde Januarie 2008 speel ek my eerste toernooi met pleisters wat nog van onder my bors tot heel onder sit. Ek eindig 4de vanuit die 8 dames.
Met die 32 (of meer) bestralings was dit nogal moeilik. Die laatste afspraak wat ek kon kry was 3:30 nm. Soms het sport of ‘n vergadering tot 3uur aangehou en dan moes ek nog gaan stort. Teen die tyd wat ek op die bestralings bed gaan lê het, het dit gevoel ek kom steeds teen daardie draaie in die pas af. Ek moes jaag, anders was ek laat.
Ja, vir my was chemo nie so erg nie. Ek het baie pluspunte daarin gesien. Ek het nie nodig gehad om been en onderarm hare te skeer nie. Ek was baie gesond. Knie pyne en tennis elmboog het verdwyn. Dit is steeds weg. Die pruike was ‘n groot gerief.
Nie net was was, stort en bad maklik nie, maar in die oggend was daar geen hare was en droog blaas nie. Jy trek die pruik net oor jou kop en spaar baie tyd.
Op 68 tree ek af. Ek het net vir seuns van 14 tot 18 skool gehou. Ek het onderwys end uit geniet. Ek glo hê respek vir ‘n kind en hy het respek vir jou.
Wat doen ek vandat ek afgetree het? Ek speel steeds pluimbal. Vir meer as 20 jaar is ek voorsitter en afrigter van die Oudtshoorn Pluimbal Klub. Ek speel liga en my gemengde maat is ‘n jong man van 28. Ek het hom reeds vanaf ouderdom 13 begin afrig. Ek speel steeds elke jaar provinsiale toernooie. Ek speel altyd teen jonger spelers.
Een keer ‘n week gee ek mosaiek klasse en een keer ‘n week skilder klasse. Ek is baie by die VLV betrokke. Beoordeel baie naaldwerk kompetisies. Waar ek gevra word om demonstrasies en werkswinkels aan te bied of blommerangskikkings moet doen, doen ek dit graag. Ek is baie nuuskierig, dus reis ek baie. Ek gaan elke jaar oor die water en toer ook baie in ons land.
Ter afsluiting:
“’n Vrolike mens is ‘n gesonde mens, ‘n neerslagtige mens raak uitgeput.” – Spr 17:22
Die ou vertaling – “’n Vrolike hart bevorder genesing….”
My lewens siening:
Om die lewe te geniet se eerste voorwaarde is om tevrede te wees.
Wees tevrede met wat jy het, met wat jy doen en met wat jou omstandighede is.
‘n Tevrede mens is dus ‘n gelukkige en dankbare mens.
Ek sê elke dag dankie – dankie vir die lewe, vir vriende, vir ‘n wonderlike moeder (92), vir my mooi tuin (veral in die lente), vir die natuurskoon waar ek ookal gaan en ja, elke aand baie dankie vir ‘n warm bad!
Die lewe is ‘n lied, dit is wat jy daarvan maak.

