Oorlewende

In Januarie 2017 raak ek bewus van ‘n buik ongemak wat kom en gaan. Middel Januarie begin die pyn al erger word, gepaardgaande met eetlus verlies en moegheid, en ek skryf dit toe aan werkstres. Einde Januarie, begin ek ‘n massa voel in my buik en pyn en ongemak kom daagliks voor. Weer skuif ek dit na die agtergrond met die verskoning dat ek nie nou kan siek word nie as gevolg van werksdruk en personeel te kort.

Maart 2017 besef ek dat ek sal moet laat kyk en maak vir my afspraak by my huisdokter op die 8 Maart.

My wêreld ruk tot stilstand en duisend gedagtes spring in my kop, en terselfdertyd voel dit of daar niks in my kop aangaan nie. Binne die bestek van ‘n paar dae verander my hele lewe. Ek word gekonfronteer met die gedagte dat ek kanker het, dat ek vir ‘n totale histerektomie moet gaan.

Wag, word my lewe. Wag vir die operasie, dan wag om ontslaan te word. Volgende wag ek vir onkoloog afspraak en dan wag ek vir die CT scan en die verslag daarvan. Na dit wag ek vir goedkeuring van mediese fonds om met chemo te begin. Wat vir my soos jare voel keur medies behandeling goed en toe wag ek weer vir my eerste chemo.

My eerste ervaring in die chemo kamer was vir my angswekkend. Selfs hier wag ek weer vir die drip en dan vir chemo om klaar in te loop. By my huis duur die wag voort en nou wag ek weer om te kyk of ek newe-effekte gaan hê en watter newe-effekte.

Die lang siekverlof begin realiteit word en vir iemand wat gewoond is aan 14 tot 18 ure werk is dit ongelooflik moeilik om soggens wakker te word en nie reg te maak vir werk nie. So wat doen ek nou met my tyd? Ek kleur in, bou puzzles en probeer selfs om te verf. En ek leer myself ken as iemand anders as net ‘n verpleegster en versorger van ander.

Wat maak die pad draaglik?
Defnitief my geloof en die vaste wete dat God my dra deur hierdie reis.

My vriende en familie wat vir my bid en so baie op offer om my te ondersteun.
Nou in 2019

My liefde vir skep, hetsy deur inkleur, verf of puzzle bou, stug nog steeds my gees.
Wag speel nog ‘n groot rol. Wag tussen scans, bloedtoetse en dokters besoeke.
Maar die wete dat Pappa Vader my ook hierdeur dra bly my anker.