Kos speel ‘n baie belangrike rol in ons familie se lewe. Miskien is dit geerf vanaf ons oumas? Hulle tafels het gekreun onder lemoenhoender, tamatiebredie, souskluitjies en ander watertant disse. Ons jonger generasie maak van elke geleentheid gebruik om ‘n feesmaal voor te berei. Ons hou pasta-aande, pizza-aande, braai-aande, sop-aande, potjie-aande, sondagmiddag feeste en vier elke gebeurtenis in ons familie met ‘n kos gedoente. As ons hartseer is dek ons die tafel, as ons bly is dek ons die tafel. Ons lewe vier ons met kos en maak van alles ‘n feesmaal.
Wanneer jy op 36 gediagnoseer word met kanker, dek jy ook ‘n tafel. Net hierdie keer word jou disse heeltemal deurmekaar gekrap. Jou bestandele is volksvreemde woorde soos karsogene, histologie, chemoterapie, bestraling (nie die oond tipe nie), limfideem, nodules, metastase. Gooi jy dit alles in jou mooiste bakke en vul jy ‘n kraffie met die soetste water styg dit hemelwaarts en borrel selle en are uit dit uit sodat dit jou omsluit in die wereld waarin jy jou tans bevind. Af en toe herken jy ‘n paar suurlemoene wat bitter vir jou loer. Beeldskoon in hul kleur, hemels in hul geur. Afwagtend… soos die bitter dae wat soms sou volg! Rooi pruime wat skaam wegkruipertjie speel en wag op die dag wat hulle gaan help om jou selle te voed en te heel. Geduldig… wanneer chemoterapie klaar sy werk gedoen het…’n sagte skil om jou vou.
Ek dink die moeilikste van hierdie “ete met kanker” is jou familie wat rondom jou sit en nog minder begryp as jy. Verdwaas staar na die wisselwerking en ratte van ‘n kanker diagnose. Elke dag dek jy jou tafel, elke minuut, uur en sekond wag jy vir orde om jou tafel – raak jy soms verlore in ‘n planeet stelsel waarvan jy min verstaan.
Helaas word hierdie kanker ete na baie maande ook n feesmaal. Jy ontmoet wonderlike nuwe mense wat saam met jou kyk na borrelende selle en are. Op ‘n dag breek die son geel soos die bitter suurlemoene deur die wanorde en vul jou met genade. Daar is weer lag in jou lewe. Orde speel weer ‘n vervullende rol in elke dag. Soms kyk jy na die kwashale en strepe op doek wat hierdie tydperk vir jou kenmerk en jy weet: Die kleure en vorms is vir jou mooi en spesiaal omdat dit jou vervorm het sodat dankbaarheid, geloof en vrede vir altyd deel sal wees van jou lewe. Op ‘n snaakse manier… was hierdie ete… ook spesiaal!

